KLEINFONTEIN BOSHOEDDAG – Brief deur: Betsie Steyn ‘n Groep Weermag-Militêre Veterane het op Saterdag, 29 Augustus, hul jaarlikse Boshoeddag op Kleinfontein gevier as eerbetoon vir die grensvegters wat nie teruggekeer...
KLEINFONTEIN BOSHOEDDAG – Brief deur: Betsie Steyn
‘n Groep Weermag-Militêre Veterane het op Saterdag, 29 Augustus, hul jaarlikse Boshoeddag op Kleinfontein gevier as eerbetoon vir die grensvegters wat nie teruggekeer het nie. Die sameroeper, Frik Oberholster, sê dit is ‘n gedenkgeleentheid vir wat 60 jaar gelede plaasgevind begin en in 1981 beëindig is en om aan die Weermagmanne hulde te bring. Dit is in die gedenktuin by die Volksmuseum aangebied.
Die sameroeper, Frik Oberholster, het die verwelkoming en bedankings gedoen, waarna ds Carel Vermaak van die AP Kerk Rayton – self ‘n oud-weerman – Ps. 90, ‘n gebed van Moses, gelees en die toepaslike vers 12 is as boodskap voorgehou. Hy het dit sterk beklemtoon dat God die Weermagmanne se toevlug en beskerming teen die vyand was en die Die Boshoed is as ‘n simboliese beskerming voorgehou om aan die Here vas te hou.
‘n Aandoenlike oomblik was die minuutstilte met die Boshoed, ook genoem die Hoofdeksel, in eerbetoon teen die bors vasgehou is.
André Botha, spreker van die dag, het ‘n interessante oorsig gelewer oor daardie tyd toe die manne in die skadu van die grens was. “Daar word met respek en dankbaarheid aan die afgestorwenes gedink vir hul sweet en opoffering,” het hy gesê, “Ons herdenk die grensoorlog, maar dink ook aan die vroue wat op vele vlakke daarby betrokke was.
“Verder dink ons aan ons kamerade wat daar in die fleur van hul lewe was – dis ‘n historiese herinnering. Daar was vier faktore van verskeie gevegsoperasies en die konflik het vir 23 jaar geduur en gesorg vir tussen 2 000 en 2500 sterftes onder ons mense. Maar: ons manne was goed opgelei, voorbereid, het geloof gehad en dit as plig vir volk en vaderland gedoen…ons mag dit nie vergeet nie en aan hulle hulde bring.”
Terwyl Craig Herwell, in volle Skotse mondering en doedelsak, ‘n solo gelewer het, is die vlag halfmas laat sak en later weer gehys is. Isabel Oberholster het iets voorgelees wat op interessanthede en soms humoristiese doel en diens van die Boshoed getoon het en hulde gebring aan die vele gebruike daarvan.
‘n Kranslegging met groot eerbetoon is gehou en daarna is ‘n Outaniekwa-geelhoutboom tydens ‘n boomplant-seremonie gehou, waarna die besoekers die 1ste en 4de vers van die Die Stem gesing het. Dit was ‘ n besonder aandoenlike geleentheid sommer so daar in die oopte en die teenwoordiges is almal besield daardeur geraak.